Thursday, 22 October 2015

Prioriteit



Die dag het blou begin vir Gerhard.  Hy het gisteraand tot amper drie uur in sy studeerkamer gewerk aan vandag se voorlegging.  Miljoene rande is op die spel. As sy firma hierdie kontrak kan losslaan is hulle toekoms gemaak.  Emke het ‘n paar keer in die deur kom staan en gevra wanneer hy dan kom slaap.  Alles in hom wou haar in sy arms neem en bed toe dra, maar hy moes eenvoudig die verslae weer deurgaan.  Hy weet sy vrou voel op die oomblik bietjie verwyderd van hom, maar dis net die werk wat hom so besig gehou het die laaste weke. Sy is kwaad omdat hy die tweeling se swemgala gemis het en toe is hy boonop laat vir hulle sesde verjaardagpartytjie ‘n week gelede. 

Toe klein Andrè  vanoggend per ongeluk sy papbakkie op Gerhard omgekeer het, het sy senuwees die oorhand gekry en hy het met die kind geraas en uitgestap. Hy is ‘n goeie pa, hy weet hy is. Dis onvergeeflik dat hy so op die kind geskree het, maar die spanning van die dag het net te veel geraak.  Hy moes skoon aantrek en jaag om betyds by die werk te kom.  Daar was nog so baie om weer oor te gaan en dinge om reg te kry vir die voorlegging.  By die werk het die kleurdrukker geweier om saam te werk.  Baie min firmas het grootformaatdrukkers en sy arme sekretaresse moes die stad vol hardloop om betyds nog planne te laat afrol.   Daar was een probleem op die ander. Gerhard se adrenalienvlakke gestyg tot net voor histerie.

Gerhard kyk op sy horlosie, dis vyf voor twaalf. Die Amerikaanse delegasie behoort nou enige oomblik aan te kom. In sy sak begin sy selfoon lui.  Dis Emke.

 “Lief ek kan regtig nie nou praat nie.” Antwoord hy vinnig.

“Gerhard, ek is lief…” haar stem klink ontredderd maar hy druk die foon dood.

Daar is nie nou tyd nie, hy sal haar na die vergadering terugbel.  Sy weet mos darem hoe lief hy haar het.  Die eerste Amerikaner stap hom reeds teggemoet.  In die gang hoor hy sy kantoorfoon lui.  Sy sekretaresse sal dit hanteer.  

“Fokus Gerhard, fokus, dis nou of nooit,”  praat hy met homself voor hy sy hand uitsteek om die Amerikaners die raadsaal in te lei.

Dit was toe nooit. Die polisie het  halfuur nadat die voorlegging begin het, na hom kom soek en hom van Emke se dood vertel. ‘n Kop-aan-kop botsing oppad om die seuns by die skool te gaan haal.  Sy was opslag dood.  Twee dae na haar dood sit hy in die sitkamer en kyk met onsiende oë na sy seuns. In sy hand is die doodsertifikaat. 

Tyd van dood is elf uur, vyf en veertig minute.

No comments:

Post a comment