Thursday, 15 October 2015

Beplanning



Die tafels is oorvloedig gedek.  Die lig wat deur die KWV wynbottels skyn gooi ‘n reënboë van kleur oor die porselein-breekgoed. Die blomme en kristalvase kom van die mees eksklusiewe bloemis.  Die teetuin waarin die tafels staan is ‘n belewenis van kleure en geure. Mozart dryf sag op die ligte briesie tussen die handjievol uitgesoekte gaste.  Die ruwe mure van die fabriek  omring die tuin en koester dit soos ‘n pêrel in sy skulp.   Elke gas het met hulle aankoms ‘n geskenkpakkie gekry met aromatiese kerse, handgeweefde serpe,  parfuum gemaak spesifiek vir die betrokke gas en ‘n edelsteen wat hulle geboortemaand verteenwoordig.  Uniekheid en oorspronklikheid is immers die kenmerke van Cora Co Juwele. 

Niemand kan haar juwele in ‘n winkel koop nie.  Dit kan ook nie by die fabriek gekoop word nie. As jy nie na een van die maandelikse Cora Co ontbyte genooi word nie, kan jy maar net droom om een of meer van haar elegante stukke te besit. En as jy die dag genooi word, is dit ‘n bevestiging dat jy nou een van die elite is.  Mans stuur hulle vroue met onbeperkte kredietkaarte, want  die status wat dit verleen maak weer nuwe besigheidsgeleenthede vir die manne oop.  Heel onder in elke geskenkpakkie is daar dan ook ‘n brosjure met die stukke wat te koop is en ‘n geheime wagwoord vir die Cora Co webwerf.  Net langs die deur is daar ‘n tablet wat jy kan gebruik om jou bod in te sit.  Aan die einde van die ontbyt sluit die bod en bring kelners sjampanje met fakture vir die juwele waarop jou bod suksesvol was. Alles baie diskreet. Maar die tablet by die deur word deur al die dames met ‘n arendsoog dopgehou.  Hoe laer die wynbottels sak, hoe meer aandag kry die tablet by die deur. Cora is definitief ‘n vrou met besondere idees wat dit ook goed kan uitvoer.

Erna Duvenhage het geen idee hoekom sy genooi was nie.  Verpleegsters kan nie eers so ‘n ontbyt bekostig nie, laat staan nog die items in die geskenkpakkie.  Sy wou nie regtig koom nie.  Sy het eers gedink dis gemorspos maar toe sy haar kollegas van die vreemde uitnodiging vertel, het hulle haar alles van Cora Co vertel.  Hulle wou nie daarvan hoor dat sy bly nie.  Ernst, haar man, het gesê sy ontmoet dalk iemand interessant en haar aangepor om te gaan. Dis ten minste ‘n gratis ete en ‘n oggend se vermaak. Vandat Ernst gediagnoseer is met ernstige depressive, gaan sy nêrens meer nie. Hy kan nie meer werk nie en het homself al meer en meer van haar en almal onttrek. Uitgaan is deesdae net te uitputtend.  Met net een salaris kan sy nie regtig vermaak ook bekostig nie. 

En hier sit sy nou tussen die dames met hulle ontwerpersklere  en verwonder haar aan die eienaar van die fabriek.  Cora sprankel tussen haar gaste.  Die rooskwarts en hermatiet in haar juwele skitter in die son. Sy ken elke gas op hulle naam, komplimenteer hulle op hulle uitrusting en vra uit na hulle mans en kinders.  Die vrou het duidelik haar tuiswerk gedoen! Sy vra self uit na die dames se stokperdjies en belangstellings. Sy is die perfekte gasvrou.

 Erna voel soos ‘n miskruier tussen ‘n klomp leeuwyfies.  Die prooi van die dag is blykbaar ‘n armband uit witgoud wat belaai is met diamante en smaragde.  Dis so gedoen dat dit nog steeds delikaat lyk ten spyte van die magdom juwele. Dis pragtig en kort-kort sien sy hoe een van die gaste na die foto kyk en dan probeer om ongemerk te gaan bie daarop.  

Erna kan net dink wat die astronomiese bedrag geld wat hulle daarvoor gaan betaal vir haar pasiente kan beteken. Klein Herman Breedt wie se ouers hom so graag wil huis-toe vat maar wat nie tuissorg kan bekostig nie.  Oom Coraizen wat in soveel pyn is en wat so graag net wil huistoe gaan, maar niemand het om hom op te pas nie.  Arno en Susan Lots wat nou net ‘n drieling gehad het waarop hulle beslis nie gereken het nie. Die lys is eindeloos.  Sy wonder of hierdie vroue al ooit in ‘n staatshospitaal was, laat staan nog iemand daar besoek het.   

Ten spyte van haar morbiede gedagtes geniet sy tog die ete en die musiek.  Hier en daar knoop iemand met haar ‘n gesprek aan en die oggend verloop heel aangenaam.  Die drie glase wyn wat sy tussendeur drink help beslis ook. Cora self kom praat selfs elke nou en dan ‘n paar woorde met haar. Iewers deur die loop van die oggend vra een van die vroue haar uit oor ‘n spuitnaald wat sy in haar seun se kamer gekry het, maar nadat Erna dit bekyk het, kan sy die vrou verseker dis ongebruik en groter as die tipe wat dwelmslawe gewoontlik gebruik.  Die vrou vat nie eers die naald by haar terug nie. Tipiese yuppie mammie, los sy die naald vir die kelner om saam met die bord terug te vat.  ‘n Ander dame vra heel beleefd uit oor die toestand van die land se gesondheidsstelsel, maar dis eintlik meer sodat sy kan praat oor al haar eie liefdadigheidswerk.  

Later kom die kelners met die sjampanje en fakture en  sy kry net ‘n strokie wat lees “Baie dankie vir alles”.  Sy kon vanselfsprekend op niks bie nie, maar sy is beindruk met Cora se bedagsaamheid om dit nie te ooglopend te maak nie, al is die bewoording effe vreemd. Seker maar hoe hulle dit in die hoër sosiale sirkels doen.  Toe almal by die deur hulle pakkies kry, ontvang sy ook ‘n pakkie.  Toe Cora haar groet is sy verbaas om ‘n drukkie te kry.

                “Dankie dat jy hier was, dit was vir my ‘n groot plesier om jou hier te hê.  Ek hoop ons sien mekaar gou weer,” fluister haar gasvrou in haar oor voordat sy haar ander gaste met die hand groet.   

“Ek dink jy verwar my met iemand..” probeer sy verduidelik maar Cora luister lankal nie meer na haar nie. 
 
Toe sy later die aand die pakkie oopmaak en die witgoud armband daarin kry, is sy doodseker dat daar êrens ‘n Babelse verwarring is.   Ernst help haar om die pakkie in die geweerkluis toe te sluit totdat sy dit die volgende Maandag kan terugvat.

Sondagoggend is besig in die Algemene Saal.  Daar is die gewone geskarrel om plek te maak vir al die pasiënte wat die Saterdagaand deur ongevalle opgeneem is.  Dokters is humeurig oor ‘n te lang lys pasiente wat aandag nodig het.  Die psigotiese pasiente in die isolasie gedeelte probeer weer die vensters uitslaan om uit te kom.  Twee verpleegsters bel in om te sê hulle is siek en daar is voor tien uur al ‘n sterfgeval.  Tussendeur probeer Erna om soveel as moontlik by oom Coraizen, wat vandag weer erg pyn het, in te loer.  Sy prognose lyk nie goed nie en Erna wonder of hy die nege maande na Kersfees toe sal maak.  Net voor besoektyd  was sy hom en maak hom so gemaklik as moontlik al weet sy dat hy soos gewoonlik geen besoeke sal ontvang nie.  Sy trek die gordyne toe sodat die ander pasiente se besoekers hom nie stuur nie.

Besoektyd eet sy gou ‘n broodjie in haar kantoor saam met haar kollega, Bertha.

“Oom Coraizen het weer baie pyn vandag. Ek weet nie wat ons nog vir hom kan doen nie.” Sê Bertha moedeloos.  Bertha het baie empatie met al haar pasiënte.

“Ja, ek kan hom nie so sien ly nie, dis baie erg.” Antwoord sy net voordat hulle weer deur ‘n skel klokkie geroep word.

Iemand skuur in die gang by haar verby en sy verbeel haar die vrou lyk net soos Cora van Cora Co, maar dan steek sy in oom Coraizen se deur vas. Die gordyn om sy bed is nog toegetrek maar al die monitors is stil soos die liggaam op die bed.  Oom Coraizen is oorlede en langs hom lê ‘n leë spuitnaald.

‘n Week later sit Erna geboei in die polisiekantoor. Sy is voor haar kollegas by die hospital gearresteer en ru in ‘n vangwa gedruk.  Voor haar sit ‘n speurder met ‘n geharde gesig.  Sy het al oor en oor vir hom verduidelik wat gebeur het.  Hy maak aanmekaar notas maar sy kry die indruk dat daar nie ‘n woord van wat sy sê by sy brein uitkom nie. 

                “Kom ek herhaal vir jou wat ek weet,” sê die speurder terwyl hy haar ernstig aankyk.

                “Meneer Coraizen se dogter het jou na ‘n duur funksie genooi.  Sy het jou ‘n bedankingsnota met ‘n duur geskenk gegee vir wat jy vir haar pa doen.  Jou man het bevestig dat jy ‘n witgoud en diamant armband gekry het.  Die ander dames by die funksie het die indruk gekry dat jy ‘n spesiale gas vir haar was.  Sy het jou gedruk en iets gefluister toe jy gegroet het.  Jy het voor besoektyd die gordyne om Meneer Coraizense  bed toegetrek en dit so gelos.  Jou vingerafdrukke was op die spuitnaald wat die oordosis morfien toegedien het.  Jou kollega Bertha getuig dat jy aan haar gesê het jy kan hom nie so sien ly nie.  Is enige van hierdie dinge nie waar nie?”

“Dit is, maar dis nie soos dit lyk nie!  Ek was by ‘n funksie vir Cora Co! Ek weet nie eers..”

“Jy bedoel Coraline Coraizen, Cora Co is net haar juwele se handelsnaam.  Moenie maak of jy dit nie geweet het nie. Erken liewer jy wou haar help.  Die arme vrou is hartgebroke oor haar pa. Sy was bereid om haar besigheid op te gee om hom te gaan versorg. Maar nee, julle verpleegsters dink mos al te graag julle kan besluit oor lewe en dood.” Die speurder kyk na haar met soveel veragting en misnoë dat sy liewer wegkyk.

Deur die oop deur sien sy Cora langs ‘n lessenaar staan. Sy is skaars twee armlengtes weg.  Haar handsak lê op die bankie langs haar en haar selfoon en sleutels lê net langsaan. Die foon lui en Erna is net betyds om “Ernst liefie” op die skerm te lees voordat Cora dit opraap.

“Hallo skat.  Nee wat, alles is reg hier hoor,”  hoor Erna haar sê terwyl sy uitloop.

Buite raak dit vinnig donker.



No comments:

Post a comment