Wednesday, 19 August 2015

Die pad huis toe.



Dit was weer een van daai oggende.  Tassie het hopeloos verslaap want sy het tot laatnag met ‘n skildery gesukkel.  Vanoggend moes sy  so vinnig deur die stort spring dat haar waslap nie eers behoorlik nat geword het nie.  Haar briewetas het sy sommer so in die hardloop na die voordeur gegryp. Buite was dit bibberend koud en sy het amper gegly op die ryp wat spierwit op die grasperk gelê het.  Voor haar was nog ‘n dag van aktes, testamente en kontrakte waardeur sy moes worstel om by nog ‘n alleenaand uit te kom. Soms het sy haar verbeel dis nie regtig haar lewe nie. Dis net ‘n tyd wat sy moet deurmaak totdat sy by die lewe uitkom waaroor sy al so lank fantaseer.

Tassie de Bruin, junior prokureur, word in haar kop Natasha Brown, kunstenaar. Donker kantoorpakkies verander in los truie en dik sokkies.  Ag tot vyf kantoor ure word eindelose vlugte van kreatiwiteit.  Rigiede lyne van haar lewe vloei deurmekaar en sy is vry. Maar nie vandag nie.  Dis Maandag en dit beteken oggend-vergadering met haar pa, hoof van Dr Bruin en Vennote. Haar pa het die gawe om haar lewe op te som in woorde wat val soos ‘n kraan wat lek. Ritmiese, vallende woorde wat net vloer toe gaan en in die grond verdwyn.

Soos dit haar pa se gewoonte is, kom sit hy langs haar op die donker leerstoele in sy kantoor. Sy hare is nou al heeltemal grys, maar sy groen oê is skerp en kalm. Sy gesig dra swaar aan dieperwordende lyne en sy weet dat enkelouerskap daartoe bygedra het.Haar pa is werk en erns teenoor haar ma se lig en lag. Die twee teenoorgestelde pole het mekaar binne ‘n paar jaar weggestoot.  Haar ma is weg Europa toe saam met haar nuwe vrou toe Tassie ses jaar oud was. Toe Ferdinand, haar tweeling broer, tien jaar gelede aangekondig het dat hy ook homoseksueel was, het dit haar pa amper gebreek. Dit het nie juis gehelp dat Ferdie die aankondiging dramaties in sy droomrok gemaak het nie.  Hy sou nie die prokureursfirma kon oorneem nie.  Hy wou ook nie. Ferdinand woon nou in San Fransisco waar hy kabaret in drag doen. Hy stuur vir hulle eposse vol staaltjies oor sy lewe en pakkies wat met sorg en liefde bymekaargesit is, maar hy kom kuier nie. Alberton is nie progressief genoeg vir Ferdie nie.

“Jy was weer laat vanoggend.” Haar pa konstateer bloot ‘n feit.  Dis nie ‘n vraag of ‘n beskuldiging nie.

“Ek weet.”Sy bied nie ‘n verskoning ‘n verduideliking aan nie. Dit sal nie vir hom saak maak nie.  Haar pa se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding is ‘n alomteenwoordige gawe.
“Jy het weer vir Jonathan nee gesê.”

Jonathan is haar pa se briljante jong vennoot. Hy vra haar elke Vrydag uit en elke Vrydag sê sy nee. Jonathan is ‘n roetine mens soos haar pa. As sy ooit ‘n man soos haar pa wou hê, sou sy Jonathan vat.

                “Ja ek het. Hoekom hy aanmekaar by Pappa kom kla weet ek nie.”

“Hy het niks gesê nie. Ek kon dit op sy gesig sien.Wat het jy teen hom?”Sy kan nie lekker uitmaak of hy nuuskierig om bekommerd is nie.

“Vra ek pa uit oor pa se liefdeslewe?”Sy vee ‘n paar verdwaalde hare woes uit haar gesig uit.
Haar pa sug diep en skud sy kop.

“Dit verander in elk geval niks. Jy’s afgedank. Met onmiddelike effek.”Hy haal ‘n koevert uit sy binnesak uit en druk dit in haar hande.

“Wat? Ek verstaan nie. Dit was net vyf minute? Of is dit oor Jonathan”? Sy sukkel om die koevert oop te maak, maar haar pa se hand vou oor hare en gee dit ‘n drukkie.

“Jy is nie ‘n prokureur nie, Natasha.” Dis die eerste keer dat haar pa haar op haar volle naam aanspreek.  “Ek verstaan nou jy het dit gedoen vir my. Jy wou opmaak vir al my terleurstellings en ek waardeer dit, maar jy is ongelukkig. Dis nie jou passie nie, dis myne.”

Trane begin stadig oor haar wange loop en haar pa staan op en trek haar in sy arms in.

“Gaan kuier by jou ma, gaan kuier by Ferdie, vat al die tyd wat jy nodig het en skilder solank as wat jy wil.” 

“Maar wat van Pa? Ek kan nie net vir Pa alleen hier los nie?”Haar pa ruik na huis en naskeermiddel en sy wil vir altyd net so bly staan maar hy druk haar saggies weg.  “Wat as niemand my goed wil koop nie?”

“Ek is nie alleen nie, ek het my werk en ek is gelukkig.” Sy stem is sag en ferm. “Gaan nou. Gaan wees jy ook nou gelukkig. Gaan vind uit waar jy behoort.”

Ses maande later sit Natasha Brown in ‘n knus kroegie in Sausalito.  Gister is daar ‘n aardige bedraggie in haar rekening inbetaal vir skilderye wat reeds verkoop is. Sy het pas weer drie nuwe skilderye by een van die vele gallerye van die kunstenaarsdorpie afgelaai.  Dis warm in die kroeg. As almal om haar nie met ‘n Amerikaanse aksent gepraat het nie, sou sy kon sweer sy kuier in Knysna. Langs haar sit Edmond en tuur by die venster uit na die seiljagte wat onder die Golden Gate brug deur vaar.  Vir ‘n oomblik verloor sy haarself in die skoonheid en die skril kleure van die toneel voor haar, maar die klank van Edmond se stoel wat vinnig agteruit gestoot word bring haar gou terug.

Sy het hom drie maande terug ontmoet by een van Ferdie se epiese kuiers.  Mense van alle uithoeke vergader graag by Ferdie se dakwoonstel en kuier oor drank en diep filosofiese gesprekke. Edmond is van Frankryk maar hy praat klaar met ‘n effens Amerikaanse aksent. Ferdie is nie mal oor hom nie, maar sy was onmiddelik.  Edmond is ‘n beeldhouer maar sy werk is baie eksperimenteel en abstrak. Dis dalk hoekom dit nie eintlik verkoop nie. Hy weier om, soos hy dit stel, sy werk te marginaliseer om te pas by die kapitalistiese lewensbeskouing. Al beteken dit ook dat hy in die kelder van Ferdie se woonstelblok moet woon. Sy was onmiddelik verlief op sy diep blou oê en sagte blonde krulle.  Daar is ‘n intensiteit aan Edmond wat vir haar verruklik anders is.  Hy lewe in volle oorgawe aan wat ook al hy op die oomblik mee besig is en sy het haarself gelukkig geag dat hy met haar wou besig wees. 
 
“Engel, ek praat met jou!” Onderbreek hy haar gedagtes.

“Eskuus, ek het aan jou sit en dink.” Hy hou daarvan dat sy al haar aandag aan hom gee. “Wat het jy gesê?”

“Wat het jy gedink oor my?” Selfs sy stem is ‘n kompliment, sag en sensueel. Hy gaan sit weer en gly sy arm om haar skouers.

“Hoe gelukkig ek is om jou te ken.” Glimlag sy.

“Hmm, ek is nogal ‘n vangs.” Terg hy. Hy lyk so tevrede soos ‘n katjie wat ‘n piering melk gekry het.

“Gee gou ‘n paar dollar dan kry ek vir ons drankies.” Hy vra nie, hy sê.

In die begin het dit haar gegrief omdat haar pa haar nooit sou laat betaal vir enige iets nie, maar sy verstaan sy omstandighede. Hy het soveel integriteit in sy kuns  Sy haal die note uit haar beursie en gee dit met ‘n glimlag. Verlede maand moes sy hom help met sy huur ook.  Hy wou by haar intrek en sy woonstel opgee omdat dit vir hom te swaar was om haar geld te vat, maar sy het nie kans gesien nie.  Buitendien doen haar kuns goed. Sy het nog nie eers nodig gehad om die tjek wat haar pa in die bruin koevert gegee het, te bank nie. Edmond het probeer aandring dat sy dit bank voor dit verval. Hy het haar daarop gewys dat haar pa dalk bekommerd kon wees as hy dink sy sit sonder geld.  Maar sy wou nie. Sy wou onafhanklik wees.

By die kroegtoonbank is daar ‘n ander vrou wat haar bes probeer om ‘n gesprek met hom aan die gang te kry, maar hy bestel hulle drankies en kom terug tafel toe.  Sy is al gewoond daaraan dat ander vroue sy aandag probeer trek.  Hy is immers ‘n baie aantreklike man.  Later stap hulle hand aan hand terug na die veerboot wat hulle terug moet neem San Franscisco toe. Agter hulle sak die son stadig en toe Edmond haar nadertrek en soen gee sy haarself volkome oor aan die oomblik.

“Liefling, beteken dit..? Vra hy naby haar oor.

“Nee.”Glimlag sy lui. Hy is so haastig. Sy is nog nie reg vir so ‘n ernstige stap nie, maar Edmond wou al van die eerste aand af hulle verhouding fisies maak. “Gee my nog ‘n bietjie tyd.”

“Jy vertrou my nog steeds nie!” Hy stamp haar amper ru weg en stap met driftige tree alleen oor die loopbrug na die veerboot toe.

Dieselfde argument, elke keer net ‘n bietjie luider en met meer woede. Sy is nie lus daarvoor nie. Sy innerlike intensiteit maak sy woede soos die van ‘n tweejarige wat ‘n vloermoer gooi. Later sal hy haar soebat om hom te vergewe en sy sal. Want hy maak op met net soveel passie. Vir die eerste keer maak die vooruitsig haar moeg. Hoekom sy nou daaraan dink weet sy nie, maar sy onthou hoe haar ouers se woorde in dieselde sirkels van hard en sag geswem het. Hoe moeg haar pa gelyk het. Hoe intens haar ma was.

Dieselfde vrou wat sy vroeër in die kroeg gesien het, kom staan langs haar.

“Ek neem aan jou geld is nou op?” vra sy terwyl sy Edmond agterna kyk.

“Jy sal nog leer!” roep die vrou agterna toe Natasha haar ignoreer en die veerboot op draf. 
Sy sien hoe Edmond die vrou aangluur en toe wegdraai. Hy verdwyn tussen die mense op die veerboot en Tassie is dankbaar daaroor.

“Pappa, ek kom terug.” Los sy later die aand vir haar pa ‘n boodskap op sy foon. “Ek is toe ‘n skilder, maar ek wil dit by die huis doen. Kan pappa dalk reël dan Jonathan my moreaand 10uur op die lughawe kom haal? Ek dink ek weet nou waar ek hoort.







No comments:

Post a comment