Saturday, 21 March 2015

Die lyn



Die tatoe idee het as ‘n soort rebellie begin.  Dewald se pa haat tatoeërmerke.  Dewald se pa haat alles wat nie voor 1850 allemansgebruik was nie. Wel, dalk nou nie heeltemal 1850 nie, maar jy verstaan wat ek bedoel.  Hy was nie die verligte, moderne tipe nie.  Elke verbetering wat Dewald op die plaas wil aanbring kos amper ‘n jaar van argumente, navorsing en soebat voor die ou man instem.  Dan keur hy boonop nog meer as die helfte af.

Die dag toe Dewald haar vir die eerste keer huistoe gebring het, het sy gedink die ou man gaan ‘n beroerte kry.  Hy het duidelik nie gedink ‘n vrou wat met hoë hakke en ‘n kort rokkie daar aankom, is enigsins geskik vir die plaaslewe nie.  Veral nie ‘n vrou wat sielkunde geswot het en ‘n stadsmens was nie.  Hy het letterlik geskok gelyk, asof hy ‘n spook gesien het. Mens sou sweer sy het burlesque gedans in sy sitkamer. Toegegee, sy was uiters onvoorbereid vir enige huwelik.  Sy kon nie kook nie.  Huishou was iets wat die huishulp en die kok in haar ouerhuis gedoen het.  Die kultuurskok van die plaaslewe gekombineer met ‘n afkeurende skoonpa was amper te veel vir haar.  Dewald se pa is sy enigste familie.  Sy ma is oorlede met sy geboorte. Sy moes dit eenvoudig laat werk.

            In die eerste vyf jaar van hulle huwelik het die ou man haar nooit direk aangespreek nie.  Enige iets wat hy wou sê, het hy met Dewald bespreek sodat Dewald met ‘die meisiekind’ moes praat.
           Dewald het kom sê dat sy die ou man nie as “Pa” moes aanspreek nie.  Hy het glo die gebruik onnatuurlik gevind en sou dit verkies as sy hom “Karel” noem.  Dewald het hom bloedig vererg en die argument wat gevolg het, het uitgeloop op ses weke se stilstuipe op alle fronte.  Dis toe dat Dewald die geld wat hy van sy ma geërf het gebruik het om vir hulle ‘n aparte huis te bou weg van die hoofopstal af.  In teenstelling met die Kaaps-Hollandse hoofopstal was hulle huis ‘n pragtige, moderne siersteenhuis wat gelyk het of dit uit die kliprante agter die huis gegroei het. Die ou man het veel te sê gehad oor die gebruik van water vir haar pragtige tuin om die huis, maar sy het bly plant.  Die tuin was haar terapie.  Haar stukkie eienaarskap.

           Die ou man het sy voete nie daar gesit nie.  Sy het een middag, toe hulle met die beeste in die drukgang sukkel, gehoor hoe hy vir Dewald sê om liewer terug te ry na sy klipkasteel toe.  Sy ondankbaarheid het haar gegrief.  Hy behoort bly te wees dat hy nie meer sy huis met haar hoef te deel nie.  Dewald het sy pa net daar gelos, op die trekker geklim en weggery.  Daardie aand moes sy mooi praat om te keer dat Dewald nie net alles oppak en sy geboortegrond verlaat nie.   Die deel van Dewald waarvoor sy die liefste is, is sy aardsheid en sy gebondenheid aan die grond. Dit maak van hom die man wat sy ken en liefhet.  Hulle kinderloosheid en die ou man was die enigste twee probleme in hulle huwelik.  Die ou man was nie die grootste probleem nie.

          Vir die eerste keer in hulle amper ses jaar saam, was sy die maand vier dae laat.  Sy het niks vir Dewald gesê nie, maar die hoop in haar het ‘n onkeerbare lekkerte geword.  Haar plan was om vanoggend dorp toe te ry en ‘n toets te gaan koop.  Sy het al begin dink aan hoe sy die nuus vir Dewald sou vertel.  Hoe sy bruin oë sou sag word.  Hoe bly hy sou wees. Vier dae mag klink na ‘n kort tydjie, maar dit was lank genoeg om te begin droom oor name en baba-beddegoed.

En toe was daar bloed toe sy vanoggend badkamer toe was.  Haar hande het gebewe toe sy die tampons uit die rakkie gehaal het.  Met haar kop teen die koelte van die badkamermuur het sy haar vuis teen haar mond gedruk om haar snikke te probeer keer.  Deur die eenrigtingglas van haar badkamervenster het sy gesien hoe die ou man die hek na die volstruiskamp ooplos en hoe die volstruise in haar tuin instap. ‘n Ongekende, witwarm woede het van haar besit geneem.  Sy het haar kar gevat en dorp toe gery.  Reguit na die tattoo-kunstenaar se ateljee.  Die ontwerp lê al vir maande in haar handsak.  Blou morfo skoenlappers.  Die soort wat sy as kind by Butterfly World gesien het.   Die ontwerp was fyn, vroulik en elegant met sagte lyne.  

Aanvanklik wou sy dit iewers sit waar net Dewald dit kon sien, maar nou dink sy dit moet op haar been kom.  Daar waar die ou man dit nie kan miskyk as sy ‘n kortbroek of ‘n romp dra nie.  Dan gaan hy seker weer vir Dewald sê om die meisiekind aan te sê om behoorlik aan te trek.
Die ateljee is warm en effe bedompig ten spyte van die lugversorging.  Die dame agter die ontvangstoonbank het welige donker hare en helderblou oë.
 “Kan ek help?” vra sy vriendelik.
   “Ek wil ‘n afspraak kom maak.Ek wil…” maar Eloïse kry nie haar sin klaar nie.  Die wêreld raak onverwags voor haar donker en sy gryp vervaard na die toonbank.

        Toe sy bykom lê sy op ‘n rusbank en is daar bekommerde gesigte om haar.
“Wat het gebeur?” vra sy.  Haar kop is seer en daar is iets taai op haar wang. 
“Lê net stil asb. Die ambulans is nou hier.  Jy het omgekap en jou kop teen die toonbank gesny.” Die man wat antwoord moet seker een van tattookunstenaars wees.
“Ek is naar,” kry sy darem die woorde uit voor sy oor sy voete en deel van vloer naar word.

‘n Uur later lê sy in ‘n wit hospitaalbed met ‘n pleister op haar voorkop.  Die dokter het vir Dewald gebel en sy kan nie wag om hom te sien nie.  Hulle wil haar oornag hou net vir observasie, maar selfs dit kan nie haar vreugde demp nie.  Blykbaar is ‘n bietjie bloeding nie ongewoon in die eerste maand of so van ‘n swangerskap nie.  Inplantingsbloeding of so iets, noem die dokter dit.  Die dokter dink dit is wat verlede maand ook gebeur het.  Sy kon reeds die ou hartkloppie hoor op die sonar en die dokter sê sy is reeds nege weke swanger.  Haar emosies is ‘n warboel.  Sodra sy vir Dewald vertel het, wil sy haar ma bel.  Hulle was so verwyderd vandat sy plaas toe gekom het, of soos haar ma gesê het, haar talente op die plaas kom begrawe het.  Dalk sal ‘n eerste kleinkind help om weer brûe te bou.
Die glimlag verstar op haar gesig toe die deur oopgegaan en dit die ou man is wat inkom.
  “Waar is Dewald?”
     “Hy was besig met die perde en ek was by die bakkie.  Ek het sy foon geantwoord.” Die ou man se stem is minder bars as gewoonlik.  Dis die langste sin wat hy nog ooit direk met haar gepraat het.
            “Wat doen jy hier? Hoekom het jy nie vir Dewald gestuur nie?”
            “Ek het geskrik en gery.  Ek het huis toe gebel en ‘n boodskap gelos. Hy sal seker netnou  hier wees.”  Eloïse kan sweer hy is ongemaklik.  Asof die hospitaal hom ontstel.
            “Ek sou dink jy sou bly wees dat ek weg van die plaas af is vir ‘n rukkie.”  Beskuldig sy en voel onmiddelik daarna soos ‘n hond.  Demmit, sy het haarself belowe sy sal nooit daal tot op sy vlak nie.
“Ja, ek wil jou van die plaas af hê, maar dis nie wat jy dink nie.”  Sy stem is amper pleitend.
“Dan wil jy hê jou kleinkind moet weg van sy of haar geboortegrond af grootword?” Sy wou Dewald eerste vertel maar dis nou maar tot daarnatoe.
“Kleinkind?” Sy oê volg die lengte van haar lyf en rus dan weer op haar gesig. “My God!”  Hy klap die deur agter hom toe en sy luister na sy voetstappe wat hard en vinnig in die gang af verdwyn.
Toe Dewald ‘n halfuur later daar opdaag huil sy nog steeds.  Nie eers sy vreudge en geluk kan haar laat beter voel nie.  Sy huil sy hemp sopnat.
Twee weke later sit sy plat op haar agterstewe in die tuin besig om die skade wat die volstruise veroorsaak het te probeer herstel. Haar gedagtes is by haar ma se kuier ‘n week gelede. Dit was asof haar ma weer haar ma was. Sy was gesellig, ontspanne en borrelend oor die nuwe lewetjie wat oor sewe maande sy of haar opwagtig gaan maak. Dewald is soos ‘n kloekende hen.  Hy dra haar behoorlik op sy hande.  Die ou man het sy nog nie weer gesien nie.  Dewald het gesê hy was stad toe vir ‘n paar dae. 

Sy trek haar sonhoed af om die sweet van haar voorkopaf te vee.  Sy voel effe arig, die hitte van die middag raak te veel vir haar.  Toe sy opstaan om in te gaan sien sy uit die hoek van haar oog die ou man na haar aangestap kom.
“Middag.” Groet sy.
“Ek het my testament laat verander. Die plaas is nou op jou en Dewald se naam. Ek gaan Pretoria toe.”  Alles op een trant, sonder om eers te groet.
“Ek verstaan nie?  Haat jy my kind soveel dat jy nie eers die ou dingetjie wil sien grootword nie?  Wat het ek ooit aan jou gedoen?  Wat dink jy gaan dit aan Dewald doen as jy hom net los?”  Sy haat haarself vir die uitbarsting, maar te veel jare van opkrop het haar beheer laat verkrummel.  “Watter soort pa is jy!?” Sy haat die seer wat oor sy gesig flits.  Die besef dat dit daar is temper haar humeur effe, maar die woorde is klaar uit.

“Watter soort pa!  Watter soort pa?”  Sy gesig is amper teenaan hare. “Die soort pa wat moet toekyk hoe hy dag vir dag die vrou wat hy liefhet verloor sodat sy seun gelukkig kan wees.  Die soort pa wat nie saam met sy kind ‘n maaltyd kan eet nie, ingeval hy iets laat glip en sy seun sal weet! Die soort pa wat liewer weggaan as om sy seun te laat agterkom hoe hy oor sy seun se vrou voel! Die soort oupa wat vir sy kleinkind ‘n gelukkige familie gun.”  Sy gesig is vertrek van emosie.
“Eloïse, weet jy wat verlies is?” vra hy voor hy haar hand na sy lippe bring en sag soen.  Sy ruk haar hand weg.
Toe hy omdraai en loop sien sy Dewald waar hy in die kombuisdeur staan.  Haar man se gesig is spierwit. Karel se bakkie-deur en die kombuisdeur klap gelyk toe.

No comments:

Post a comment