Monday, 2 February 2015

Die skildery




Sy sou so graag almal nog net een keer bymekaar wou kry.  Die hele uitgebreide familie met kinders, skoonkinders, kleinkinders, niggies, nefies en agterkleinniggies en –nefies.  Net een keer weer tussen al haar geliefdes wil kuier voor die groot trek oor die water.  Sy skuif haarself gemaklik reg op die grond onder haar gunsteling boom.  Voor haar lê die plaas in ‘n lappieskombers van koring- en canolalande met hier en daar ‘n braakland tussen-in.  Die persblou berge in die verte omraam die prentjie perfek.  Haar geboortegrond wat vir tien geslagte van kind tot kind aangegee is.  Die plek waar sy geglo het sy behoort en sal bly tot die dag van haar dood.  Nooit in haar sewe- en sestig jaar het sy ooit gedink sy sal iewers anders woon nie.

Annetjie skop haar sandale af en krul haar tone behaaglik in die bruin grond in.  Dis somer, maar die oggend is nog heerlik koel.  Met haar rug teen die ruwe stam is sy weer agtien en sit sy hier saam met haar Harold.  Sy hoor weer vir Dean Martin oor die ou transistor-radio en Harold wat haar optrek en “When the moon seems to shine like you have to much wine..” heeltemal van noot af saamsing. Beleef weer hulle piekniek onder dieselfde ou boom toe hy haar haar gevra het om te trou.  Onthou sy haar man se teerheid en geduld toe hulle gesukkel het om swanger te raak. En toe Teon uiteindelik sy opwagting maak, was hulle sò gelukkig. Die kind was ‘n wonderwerk waarna nie sy, Harold, of haar ouers kon of wou ophou kyk nie.

Sy sien weer die wawiel by die oprit wat haar pa daar ingemessel het ter herinnering aan hulle voorgeslagte.  Haar ma het gesê dis ‘n simbool vir die paaie waarop almal van hulle moes reis om hier hulle huis te vind.  Nou is haar ouers en Harold deel van die bruin grond van die plaas en moet sy hulle laat agterbly.  Sy vee die trane wat nou vryelik loop sommer met die rugkant van haar hand af.  Dis nie nou die tyd vir trane nie.  Dis tyd vir haar laaste skildery van haar hartland.  ‘n Spesiale skildery wat sy wil maak om in hulle nuwe tuiste te hang.  Ietsie wat die mooi van haar geboorteplaas vir altyd vir haar kan verteenwoordig.

‘n Uur later is die doek op die esel nog steeds spierwit. Sy sal moet roer. Daar is nie baie tyd nie.  Vanaand slaap hulle in ‘n hotel in Kaapstad, want die vlug is vroeg moreoggend.  Die meubels wat saamgaan is gister al weg.  By haar huis aan die voet van die heuwel, is dit ‘n geskarrel soos mense kom en gaan om te groet.  Maar sy kan net nie fokus op die skildery nie.  Te veel herinneringe, té veel om van afskeid te neem. 

Gelukkig het Annemie voorgestel dat sy haar kamera saambring ingeval sy nie klaar geverf kry nie.  Dan kan sy ‘n foto neem en die skildery in Amerika klaarmaak as die verlange haar beetpak.  Annemie het haar oupa se praktiese streep en sy liefde vir diere in oorvloed geërf. Diè kleindogter van haar sou ‘n wonderlike boervrou uitmaak.  Net soos haar ouma, is sy onder die sterreteken van die skerpioen gebore.  Diep, intens, lojaal, geheimsinnig en sterk – dis haar kleindogter Anna-patattie.  So anders as haar kleinboet wat so lekker ligsinnig kan wees.  Harold Jnr het sy ouma se kunssinnigheid gekry en sy pa en sy oupa se selfversekerdheid.  Op nege speel die mannetjie al vyf instrumente en het hy al met die Johannesburgse simfonie opgetree.  Ouma se klein pierewaaier! Haar kleinkinders is liefde verdubbel.

So besig is sy in haar gedagtewereld dat haar skoondogter amper by haar is voor sy haar opmerk.

“Leah, wat bring jou na my boom toe?”  Verwelkom sy.

“Ek kon nie meer glimlag nie, Ma.” Leah gooi ‘n kniekombers onder die boom oop en gaan sit.  “Te veel mense en almal probeer ons ompraat om te bly.”

Annetjie trek die ligte truitjie stywer om haar  skouers en gaan sit langs Leah.  Die seer het diep lyne op haar skoondogter se gesig getrek. Sy glimlag amper nooit meer nie.

“Dis te laat vir omdraai, die plaas is verkoop.” Sy sou graag die gelatenheid uit haar stem wou hou, maar sy kry dit  nie reg nie.

“Ek is jammer Ma. Ek kan nie dink wat dit aan Ma doen nie.”  Leah druk haar hand.

“Jy weet dis vir die beste my kind. Vir ons almal, vir my ook.”  Vir ‘n ruk sit hulle stil langs mekaar en geniet net die rustigheid en die troos van mekaar se nabyheid.  Die band tussen hulle is meer as net die van ma en dogter.


“Ma, Teon vra ma moet asb. na die stalle toe gaan.  Hy het ma se raad nodig met een van die perde.” 

“Ek gaan nie in die stalle in nie en hy weet dit!”   Verskrikking is ‘n donker swart skaduwee wat haar wil oorweldig.  Sy sukkel om haarself te bedaar.  “Is die perde nie almal vanoggend al weg nie?”

“Mamma ons kan nie vir altyd wegkruip nie, kom ek stap saam met Ma.”  Leah trek haar op en hak by haar in. “Dis al ses maande Ma, ons kan dit doen. Ons moet dit vandag doen, vir onsself.  Ons kan nie met skaduwees trek nie.”


Natuurlik is dit al ses maande.  Sy het die dag in haar dagboek heeltemal swart geverf.  Op haar almanak ook.  Miskien as sy die datum kon vernietig het die dag nie regtig gebeur nie. Was daar nooit so ‘n dag nie.  As sy net gemaak het asof die stalle nie bestaan nie.  Asof sy nooit die donker deur toegedruk het agter haar nie.  As sy net nie daardie oggend vir Leah saamgenooi het om te gaan perdry nie.  As… as… as… word ‘n vernietigende refrein wat dreig om die asem uit haar longe te forseer. 

“Leah, ek kan nie…” Paniek dreig om haar te oorheers.

“Ek ook nie Ma, maar kom ons doen dit.”  Waar die kind die krag vandaan kry weet Annetjie nie.  Hoe nader hulle aan die stalle kom, hoe stadiger stap hulle albei.  Hulle vorder tot agter die huis voor hulle amper gelyk stop. Dit lyk of Leah soek na woorde of na enige iets om die besoek aan die stalle uit te stel.

            “Dink Ma ons het die regte besluit geneem oor ons nuwe blyplek? Dink Ma die Napa vallei sal goed wees vir ons?”

“Ons het dit so sorgvuldig bespreek en beplan my kind.  Daar is baie geleenthede vir die kinders en dis relatief veilig.  Min misdaad.”  Die olifant tussen hulle het nou ‘n naam.

“Ag ma! Ek moes Ma beskerm het.  Ek moes terugbaklei het. Ek is jonger as Ma, sterker. Ek moes..”  Haar rou snikke verdrink die res van haar woorde.

“Nee my kind, my pragtige dogter! Ek moes jou beskerm het.  Ek is die ouer. ‘n Ouer beskerm haar kind.”  Haar arms vou om haar skoondogter wat so na aan haar hart lê.  Die dogter wat sy nooit self kon hê nie en wat haar seun op ‘n Vrydag huis toe gebring het.

Die trane tussen hulle word ‘n vloed wat dreig om hulle mee te sleur.  Die stroomversnellings is herinneringe van mans wat hulle in stalle in dwing.  Hulle ru op die grond gooi en vasdruk.  Herinneringe van hulle hande wat mekaar soek terwyl hulle desperaat probeer keer.  Gesamentlike gille wat met kru woorde en vuishoue  stilgemaak word.  Vlae en vlae pyn en vernedering wat meer is as wat hulle gedink het hulle sou kon oorleef.  Die stroom is vol skerp rotse van magteloosheid, verlatenheid en stukkende liggame. Tome wat hulle aan hoekpale vasbind en net daar los vir die werkers om te vind.  Afgryse. Skaamte.  Gebrokenheid. 

Die waterval is so naby en dis so maklik om net oor die rand te tuimel.

“Hey, hou op huil! Hou nou op!”  Harold Jnr se stem is bang en dun.  Seuntjie-arms vou om hulle.  “Seblief hou op. Asseblief?”

Leah haal diep asem en trek haarself weg van haar skoonma af.

“Jammer my skat. Ons is okay, regtig.”  Die krag van ma wees rig Leah op sodat sy haar kind kan troos.  “Ek en Oumie stap gou stalle toe.  Kom saam.”

Leah se kalmte gee haar ook krag en saam druk hulle die staldeur oop.  Dis donker binne. Die enigste lig is die lig wat vanuit die oop deur agter hulle uit straal.

“Teon! Te-on!”  Sy sien nie haar seun nie.  Sy voel om haar en vat klein Harold se hand styf in haar eie.  Sy wil vlug maar haar lyf wil nie roer nie. Ag Here!

In die eerste stal gaan ‘n lig aan en haar jarelange vriendin Maggie kom uitgestap met ‘n wit en ‘n pienk roos in haar hande.   Maggie giggel soos ‘n stout kind.

“Verrassing!”

“Maggie! Hoe heerlik! Ek dog ek sien jou eers vanaand!”

Voor sy by Maggie kan kom gaan nog ‘n lig aan.  Die keer is dit haar neef Louwrens en sy hele familie. Die derde lig is Harold Snr se beste vriend met sy familie.  Die vierde Leah se broer en susters met hulle gesinne. Een na die ander gaan die ligte in die stal aan. Geliefdes dra rose en piekniekmandjies. Lig vir lig raak die liefde meer en die donker minder.

Na die laaste lig stap haar Teon-kind en Annemie uit.

“Is julle nou nog bang vir die stalle?” Vra hy sag voor hy haar en Leah teen sy bors vasdruk. 

Vier ure later kuier almal nog steeds onder die groot boom.  Die braaivleisvure is uitgebrand en stadigaan begin mense komberse uitskud en groet.  Langs haar in ‘n mandjie is drie dosyn wit rose, net so pragtig soos Leah se mandjie pienkes.  Leah se familie is die laaste om te gaan en Teon, Leah en die kinders stap saam met hulle motors toe.  Annetjie se kamera in haar sak is propvol laaste onthou-fotos maar sy haal dit weer uit om vir oulaas die landskap en haar gunsteling ou boom af te neem.  Die rose sal sy op die grafte gaan sit voor hulle ry.

Toe haar oog op haar esel val stap sy nader om die doek af te haal en die esel op te vou. Sy is verbaas om te sien die doek is nie meer leeg nie. Elke kuiergas het ‘n handafdruk daarop gelos. Haar laaste skildery is ‘n mosaiek van die hande wat liefde in haar lewe ingedra het.

“Wil jy nou meer..” mymer sy.  “Dis toe nooit die grond nie...”

No comments:

Post a comment