Wednesday, 22 October 2014

Oupa se storie



“Mamma vertel my weer van oupa?”

Die seunstem is nou al grof en diep maar hy raak nooit moeg vir stories oor sy gunsteling oupa nie.

“Wat wil jy hoor?” Onder my vingers val die aartappel skille eenkant toe.

“Enige iets.  Of wag, wat van die  keer toe hy vir die laaste keer see toe is?” Gretige groen tiener oë soek diep in myne. Waarna weet ek nie.

“Dit was ‘n mistige nag. Iewers in Junie as ek reg onthou.  Ek was omtrent dertien jaar oud, so Oupa moes in sy middel veertigs gewees het.”

“Op watter bakkie was hulle see toe Mamma?” ‘n Seunslyf vou homself gemaklik op die wasbak teen die stoof vas.  Ek glimlag vir die Weskustaal.  Dis net hier waar ‘n roeiboot ‘n bakkie is.

“Klim van die wasbak af of ek vertel nie verder nie.” Raas ek. Nog ‘n geskilde aartappel val met ‘n plons in die wasbak vol water.

“Okay, okay, jeez...” Ek kry ‘n klam soen op my wang terwyl hy by my verbyskuur. “Ek is af, vertel nou verder, watter bakkie was dit?” Agter my gaan die yskas deur oop.

“Ek dink dit was op die Jenny D...” In my gedagtes staan ek weer op die strand, starend na die see deur die digte mis, soekend na enige tekens van my pa en sy bakkie.

 “Oupa het geweet die weer is sleg, maar hy het baie bestellings vir Galjoen gehad en daar was rekeninge om te betaal.  Die see-toe-gaan dae was ook maar min in die winter.”

 “Was die mis al dik toe hy uitgegaan het, Mamma?”  Mompel my jongste deur ‘n mond vol kaas.

“Moenie praat as jy kou nie!  Nee daar was ‘n swel op die water maar Oupa het nie mis verwag nie. Hy en sy handlanger, Oom Sam, was seker hulle sou lank voor donker terug op die strand wees.  Hulle sou net hulle galjoennette by die Galjoendrift gaan optel en dan terugkom, maar hulle was skaars ‘n halfuur op die see, toe rol die mis in.  Ouma het die ligte in die huis aangesit en die lantern vishuis toe geneem om dit makliker vir hulle te maak om die baai te kry.”  Met die aartappels klaar begin ek met die wortels sonder dat ek dit agterkom.  My gedagtes is terug in 1978 in St. Helenabaai. 

“Teen sewe uur was dit donker en Oupa hulle was nog nie terug nie.  Oupa se pa het van die ander vissermanne gaan soek om te gaan kyk of hulle vir Oupa kon kry, maar dit was Landbouskou naweek op Vredenburg en niemand was by die huis nie. Daardie jare was daar nog nie ‘n NSRI nie.”
‘n Seunskindhand gaps ‘n wortel onder my hande uit en ek raps sy vingers mis.  

“Wil jy hoor of wil jy eet?” grom ek.

“Altwee” giggel hy.  “Wanneer het hy toe teruggekom?”

“Ons het so teen halfagt ‘n fakkel sien afgaan oor die see.”  Oupa se pa wou met die ander bakkie in see toe om te gaan help, maar Oupa het net een enjin gehad en die was saam met hom op die see.  Oupagrootjie was toe ook al te oud om alleen uit te roei.  Ouma het meer lanterns op die strand gesit en Oumagrootjie het hardop langs die see gebid.  So net voor negeuur het ons uiteindelik Oupa se bakkie aan die rotse kant van die strand deur die mis sien breek.  Oupagrootjie het sommer die see in begin loop om te probeer help.”

“Maar Oupa was gelukkig veilig terug, ne Mamma?” Elke keer as hy die storie hoor, vandat hy vier jaar oud was en my pa dit self vir hom vertel het, vra hy die vraag op dieselfde plek in die storie.  Dieselfde angstigheid lê koud in sy stem.

“Ja my skat, Oupa was veilig.  Hy was doodmoeg en erg verskrik maar hy was veilig.” Ek verkyk my aan die harde lyne van my kind se tienerlyf terwyl ek hom antwoord.  Al die sag is weg uit sy lyf maar gelukkig is dit nog volop in sy oë.

“Maar Oom Sam was nie?”  Asof daar die keer ‘n ander einde aan die storie kon wees.

“Nee my kind, Oom Sam was nie.  ’n Rukkie na die mis opgekom het, het die buiteboordenjin gaan staan.  Maak nie saak hoe hard Oupa probeer het nie, hy kon dit nie weer aan die gang kry nie. Hulle het verdwaal op die see en moes met die rieme roei na waar hulle gedink het die strand is.  Bang, nat en koud het hulle rigtingloos aangeploeter.  Iewers het dit te veel geraak vir Oom Sam en sy hart het net ingegee.  Oupa het later gesê Oom Sam het net opgehou lewe.  Sonder  ’n sug of ’n ruk of ’n gil.  Net stil geraak.”  My hande raak altyd stil by hierdie deel van die storie en ek sukkel elke keer om weer te begin vertel verby die knop in my keel.

“En Oupa het net aangehou roei? Het hy nie eers CPR probeer nie?”  My kind kyk te veel televisie.

“Oupa het net aangehou roei deur die donkerte totdat hy die lanterns gesien het en die wal kon kry.  Hy het vir Oupagrootjie gesê om ons kinders van die strand af te kry voordat hy aan wal gekom het.”

“En daarna was Oupa nooit weer see toe nie?” 
Ek droog my hande aan ‘n afdroogdoek af en vee my hare uit my gesig uit voor ek na my seun kyk.

“Nee, Oupa was toe nooit weer see toe nie.  Dit was dit.” 

“Mamma,”  hy moet al effe afkyk om my in die oë te kyk, “ek wil hê jy moet weet, ek sal verby my bang lewe.  Ek sal okay wees.”

“Ek weet jy sal.” Antwoord ek terwyl ek hom styf vasdruk.  Ek bid jy sal, dink my hart.

No comments:

Post a comment