Wednesday, 24 September 2014

Alleen



Buite is die nag donker en mistig. Wasige ligkringe draal om die straatligte en die stilte vorm 'n gemaklike raam vir die verlatenheid  van die dorp.   Iewers in die verte gee ʼn hond ʼn mistroostige blaf of twee, maar dan raak hy ook stil.  Hier en daar flikker ʼn stoeplig sonder veel entoesiasme. 

Karo staan by die venster met haar kop teen die koue glas.  Die koek-koek horlosie in die kombuis gee vier dowwe slae.  Die oprit is nog steeds leeg, maar hoekom dit vir haar vreemd is weet sy nie.  Dis al vier jaar, maar elke keer as die verlange haar so vasvat soek sy na sy motor in die oprit. Of sy  loop  na die hangkas in hulle kamer en druk haar gesig in die sagte japon waarin sy haarself wysmaak sy reuk nog huiwer.  Vanaand is die ewige stilte vir haar te veel.  

 Oppad terug kamer toe streel haar vingers sy vorm op die troufoto teen die gangmuur.
 
“Praat met my!” Soebat haar gedagtes die man op die foto.  Wanneer haar weerkaatsing oor sy oë op die foto gaan rus, trek sy haar asem diep in en skeur haarself weg.   Alleen in die koninggrootte bed trek sy haar skootrekenaar nader en soek vir enige lewe op Facebook.  ʼn Vriendin se status lees :  “God is love”.

Tog jammer Sy liefde is nie fisies nie, rebeleer haar gedagtes.  God gee nie drukkies nie.

“Selfbejammering is nie tjoklits nie.” Hoor sy Eckhart in haar kop sê.  Sy glimlag en maak die rekenaar toe.  

“Alleen bly is nie vir sissies nie!” snou sy hom toe. 

“Nou doen iets daaraan!”  Sy is nie so seker of die stem in haar kop hare of Eckhart s’n is nie.

Sy stem het weggeraak teen die einde.  Eers het die siekte dit net swakker gemaak en toe heeltemal weggevat.  Dit het hulle nie gepla nie.  Die beste gesprekke tussen hulle het in hulle hande en oë begin en geëindig.   

Moedeloos staan sy weer op en gaan maak ʼn koppie warm tee.  Met haar voete in ʼn paar van Eckhart se warm sokkies en haar hande om die koppie gevou wikkel sy haarself terug in die bed.  Deur die venster belig  ʼn skraal maan sy kant van die bed effens.  Die leegheid daarvan is ontstellend.  Die hitte van die tee trek stadig deur haar lyf en sy word tog lomerig. 

Die lui van die deurklokkie trek skril deur die huis.  Sy skrik so dat sy tee oor haar mors wat sy sommer met haar japon afvee voor sy deur toe draf.  Haar buurvrou se seuntjie is siek, sy hoop nie hulle het hulp nodig nie. 

“Ek kom Julia! Ek kom!” Roep sy die gang af.

Voor die voordeur, wat Eckhard self gekerf en gemaak het,  staan die nuwe pastoor.  Sy hare lê klam teen sy kop en die mis kleef aan sy grys baadjie.

“Pastoor, wat doen  jy hier diè tyd van die nag?”  Sy probeer nie eers haar verbasing wegsteek nie.  “Het iemand hulp nodig?”

Sonder ‘n woord trek hy haar in sy arms in en druk haar styf teen sy harde lyf vas.

“God sê Hy gee drukkkies.”  Fluister hy teen haar hare.

No comments:

Post a comment