Wednesday, 15 May 2013

Mamma




Waar stop die see mamma, waar begin die blou lug?
Wanneer bring Jesus vir ouma terug?
Hoekom moet ek nog bobby socks dra?
Is daar groepsgebiede in die hemel  ook ma?

Hoe voel kontraksies, hoe hanteer ek koliek?
Wat lees ma deesdae, watter rubriek
kan help met finansies;  my man is ontrou
moet ek laat gaan of moet ek vashou?

Die kinders het masels, kan mamma kom bly?
Ek dink my oudste het ‘n tattoo gekry.
Hoe glo mens weer ma, na my baba se dood?
God het vergeet ma, Hy’t my verstoot.

Padwyser antwoorde sag op die oor
Agtergrond musiek wat ek harder wil hoor
Skild teen my storms, my vasmeerplek
My tafel was oorvloedig gedek.

En toe kom die stilte - jou oë gaan toe.
Ek kan nou nog die aakligheid proe
van die monitor se laaste klik
voor die verpleegster my eenkant toe druk.

Ander lippies vra my:  waar begin die blou lug?
Jou liefde het my opgerig
Ek weet hoe om ‘n ma te wees
Ek sal die liefde in jou padkaart lees.

No comments:

Post a comment