Thursday, 17 January 2013

Fotobeelde



Die epos met die fotos het vandag gekom
en soos met ou ou kiekies, kyk ek om en om
Na jou toe jy ‘n kind was en onbevange lag
Op ‘n regop kershout stoeltjie in outydse skooldrag.
Die oë van die jy-kind speel kat en muis met my
Jou oë en jou kuiltjies het presies net so gebly
Die jare tussen fotos vertel ‘n seer verhaal:
van ouerloosheid, seunskindseerkry en te duur betaal
vir net  ‘n bietjie omgee en ‘n bietjie praat
Te veel mense het te vinnig jou wereldjie verlaat.

Ek draai my kop en op jou kussing lê die volwasse jy
Toegedraai in grootmens sorge , plooie bygekry
Die grys tussen jou hare vertel van te veel dae
met te min geld, te veel bekommer, moedelose vrae.
Die dood van ‘n ou seuntjie het jou vir te lank te stil gemaak
sodat ek sag vryf oor jou voorkop sonder om jou aan te raak.
Jou mure is te hoog en stewig, maar jou mure het ‘n hek
waardeur ek dikwels inglip na daai sorgelose plek
waar die seuntjie op die foto nog tevrede in jou bly
en waar ek warm in jou  liefde ook my tuiste kry.

Teen ons muur is nog ‘n foto van ‘n seuntjie wat lag.
Sy oë is ook helder en sy kuiltjies diep en sag.
Hy is laf en hy’s spitsvondig en hy giggel soos sy ma,
maar die enigste groot hero in sy lewe is sy pa.
Hy weerspieel jou menswees in die helderste van kleur,
ek dank God elke dag hy het met ons gebeur.
Ek sien hoe jy heelword in wat jy vir hom doen -
elke saamlag, elke uitstappie, elke druk en elke soen
bou die tweede seuntjie die eerste een weer op
verdwyn ‘n seer verlede en lig ‘n man sy kop.



No comments:

Post a comment