Monday, 19 November 2012

Die aand toe jy gebore is.

Ek het nie geweet wat liefde is voor die 19de November nie. Ek het gedink ek weet, ek was immers getroud en twee en twinting. Op twee en twintig dink mens nog jy weet genoeg. Ouma Wilhelmien het van Vredenburg af gekom Louis Trichardt toe om daar te wees vir jou geboorte. Sy het vir die eerste en laaste keer in haar lewe op ‘n vliegtuig geklim, ‘n dubbel brandewyntjie weggeslaan, haar sitplekgordel styfgetrek, haar oë toegeknyp en gebid van die Kaap af tot in Johannesburg, maar sy was daar. Ander ouma, wat saamgevlieg het, het blykbaar kalmeerpille gesluk van Kaapstad tot in Louis Trichard en elke een idiwidueel met ‘n whiskietjie afgespoel. Dit was haar eerste vlug ook. Hulle het die Sondagaand aangekom want ons het jou op die Dinsdag verwag. Ouma sou kon bly tot die Saterdag en dan moes sy terug.

Die Dinsdag het gekom en gegaan en mamma was bekonkeld moeg vir almal wat bel en vra of daar dan nog niks is nie. Elke keer as ek my lyf op die rusbank versit het, het jou pa en jou twee oumas soos meerkatjies regop gekom om te hoor of iets aan die gebeur is. Ek het later al om die huis geloop net om uit almal se pad te kom en kort kort het een van die drie my by die agterdeur gestop met ‘n lafenissie en ‘n gesig wat skree: “Is daar al iets, maar okay, ek sal nie vra nie.”

Toe daar teen Woensdag nog geen teken was dat jy gebore wou word nie, is ons dokter toe. Nie dat ek omgegee het om dokter toe te gaan nie. My dokter was jonk en atleties, nou nie so mooi soos jou pa nie, maar darem mooi genoeg dat ek gesorg het ek sit lipstiffie aan as ek hom gaan sien. Tussen jou pa en jou oumas en die aanhoudende oppassery het hulle toe my bloeddruk so hoog opgejaag dat die dokter besluit het om my te induseer sodat jy die volgende dag moes kom. Ter wille van eerlikheid moet ek darem sê ek was ook maar erg gestres dat ouma dalk die geboorte van haar eerste kleinkind sou mis. Ons het toe nog nie geweet of jy ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie was nie, maar ek dink ouma het erg gehoop op ‘n dogtertjie wat haar naamgenoot kon wees.

Die Donderdag oggend nog voor sonop is ek en jou pa toe hospitaal toe. Net voor ons gery het het Ouma het my ‘n koppie koffie in die hand gestop en gesê: “Jy gedra vir jou.” Ek dink Ouma was bang ek vloek die dokter of skree soos ‘n vark wat geslag word. Ek was verkriklik bang. Mens weet mos nie wat gaan gebeur nie en toe ons gaan registreer het, het ek al vir jou pa gesê die kraamsaal lyk soos ‘n kombuis op steroids en ek voel ek wil dit maar vermy. Mens hoor die wonderlikste rillers oor geboortes en jy weet mos, jou ma is nie een vir naalde en pyn nie.

‘n Uur later lê ek toe daar met ‘n drip in my arm en ‘n Huisgenoot op my skoot en ‘n hemelse kalmte in my gemoed. Agt ure en ‘n klomp medisyne later was die Huisgenoot blokraaisel al klaar, al die kortverhale klaar gelees, jou pa moedeloos en die dokter radeloos. Ek het so ‘n lekker binne-giggel gehad oor jou wat jou nie laat intimideer nie. Jou tyd was jou eie.

Teen sesuur het ek vir die dokter gesê hulle moet maar hulle naalde vat, jy slaap seker al. Hy en jou pa het so ‘n ‘vroumense’ kopskud gedoen en toe het hy maar die naald uit my arm getrek. Nou kyk, daai naald was nog skaars uit my arm uit toe tref ‘n pyn my so hard dat ek die bloed op die bed soek want ek was seker ek het middeldeur gebreek. In die gang kon ek hoor hoe die dokter vir jou pa se hy kan maar huistoe gaan en gaan eet, dit kan nog ure duur. Ek tel die dele van my lyf wat nog oor is op en gooi myself teen die badkamerdeur en strompel die toilet in. Die pyn trek my ses voet raam in ‘n vraagteken in, maar ek maak dit darem weer tot op die bed. Maar my kind, ek was skaars in daai bed toe voel ek ‘n drukking kom soos wat geen maagwerk dit ooit al laat kom het nie.

Jou pa kom vertel my hy gaan nou huis toe om te eet en ek sê hy kan gaan maar hy moet net eers vir ‘n verpleegster sê ek gaan nou druk, net hier in die bed. Hy was skaars uit toe kom hy weer met die sustertjie ingehardloop en sy sing-skree soos ‘n wafferse opera sopraan dat ek nie moet druk nie. Dis toe dat mamma se Weskus bloed begin pomp en ek op die punt is om vir haar te vertel wat sy met daai instruksie kan doen. Gelukkig onthou ek toe jou ouma wat gesê het ek moet my gedra en ek noem dit toe kalm aan haar dat hierdie nie ‘n willekeurige proses is nie. Die volgende oomblik duik sy omtrent tussen my bene in om te kyk wat aangaan en kom met ‘n verwilderde uitdrukking orent .
“O my Vader, ek sien al die kop” roepgil sy benoud na haar kollegas. “Kry die dokter – ek dink hy is by noodgevalle!”

Hulle laai my inderhaas op ‘n trollie en hardloop met my in die gang af na die kraamkamer toe. Ek het nogal gedink dis amper soos ‘n bobslee span met jou pa wat so agterna sprint en die suster wat al hoe vinniger hardloop maar gelukkig het niemand op die trollie gespring nie. Cool Runnings…

Die dokter het met vlieënde baadjie aangehardloop gekom terwyl hy bebloede handskoene uitgeruk het en oor sy skouer geskree: “Kan iemand net die pasiënt in ongevalle se kop klaar gaan toewerk!”

In die kraamkamer het alles stil geword. Alle fokus het geskuif na die Goddelike mooi proses en ek het in my hele lewe nog nooit so na aan God gevoel nie. Dit was asof ek en Hy besig was met ons eie privaat projek. Buite het dit gedonderweer en geblits sodat strepies blitslig af en toe oor my uitgeryste buik geval het. Asof Jesus self jou wou belig en my stuwende lyf wou troos.
En toe word jy gebore. Die naelstring was om jou nek en ek moes wag sodat die dokter dit kon losmaak. Daar was ‘n kosbare oomblik waar jy binne en buite my was en ek jou oral kon voel beweeg. Die onvriendelikhed van die kraamkamer het ‘n sagte glim geword en jy het uitgeglip in die dokter se wagtende hande.
“’n Dogtertjie!” het hy met ‘n glimlag aangekondig terwyl hy jou uitlig.
“My meisiekind” het ek vir jou pa gefluister.
“Ons meisiekind” het sy bruin oë teruggeglimlag.
My trane het vermeng met die bloed om jou toe die suster jou op my bors neergelê het.
Ons harte het warm teen mekaar geklop.
Jou ogies het gesukkel om op myne te fokus maar ons het mekaar gesien.

Toe het mamma geweet wat liefde is.

1 comment:

  1. Vertel gerus vir almal dat jy n skrywer is. Jy sal sekerlik nie jok nie.

    ReplyDelete