Thursday, 4 October 2012

Slakkie en skilpad


Slakkie  jaag vir skilpad
en sukkel om hom te vang
want skilpad skuifel verder voor
en is nie eers bietjie bang
vir wat slak gaan doen as hy hom kry nie
en slak raak baie kwaad
want hy is vasbeslote
om vir skilpad baas te raak.

Want skilpad wil nie hoor nie
Hy loop oor slak se spoor
En eet die beste blare
En los niks sappigs oor
Slakkie kan dit nie meer vat nie
Hy is al so frustreerd
Vir die onbeskofte skilpad
Wat alles op wil vreet.

Maar spoed is nie sy forte nie
En skilpad loop net weg
En slak sal regtig iets moet doen
Die situasie is te sleg.
Skilpad se dop is harder
Slak sal hom nie kan slaan
En skilpad sal slak stukkend trap
As hy op hom gaan staan.

Toe dink ou slakkie lank en diep
Vir ‘n hele dag en nag
en kry toe ‘n briljante plan
maar hy moes ‘n bietjie wag.
Toe skilpad slaap skuif slak
‘n plank onder hom in
En klim toe op ‘n hoë klip
Knyp sy oë toe en spring

Jy sou dit glo as jy kon sien
Daar trek skilpad deur die lug
En beland met ‘n harde slag
Verkeerd om op sy rug!
Toe seil die slakkie stadig op
Tot op skilpad se maag
En lees sy lys van klagtes
Solank dit hom behaag.

Skilpad moes maar luister
Hy kon nie regop kom
Maar na ‘n ure lange preek
Spring slak hom weer regom
Skilpad het toe maar geleer
Om vir slak ook iets te los
Dis beter om ‘n vriend te wees
As om te baklei oor kos.

1 comment:

  1. Jy moet asseblief jou kinderverse instuur vir publikasie, Dit is te goed om nie deur al wat kind gelees te word nie.

    ReplyDelete