Sunday, 9 September 2012

Pols


Fluister,  fluister,  wie wil luister
na die storie van ‘n man
wat te lank geloop het tussen lyne
sonder rigtig, sonder plan?

Te gulsig sluk hy aan die lewe,
oorvloedig en baldadig sterk
dink hy toe hy is onstuitbaar
stuur hom nie aan man of kerk.

Vertrap die fynste angeliere,
speel tip-tol met lief en leed.
Verloor elke stukke waarheid
waaraan mens hom sou kon meet.

Ligvoets dans hy in die maanlig
dan met my en dan met jou.
Is hy toegewyd aan waarlik liefhe
of is hy doodgewoon ontrou?

Al die dansers trek hom nader,
beswymel deur musiek en lus.
Verloor hulself in sy omhelsing
betower deur sy adder’s kus.

Maar as die laaste tromme stilword
en die oggend warm breek
omhels hulle net die more stilte
laat hy almal in die steek.

Tot ‘n pa van so ‘n meisie
vir sy kind ‘n graf moes spit.
In haar arms ‘n ou seuntjie,
dodelik koud en aaklig wit.

Langs die kampvuur, langs die vader,
grom die tromme dodelik swaar.
Vind die lem hom in die donker
voordat hy dit kan gewaar

Die rooi bloed van ons danser
loop onder ‘n roosboom in
en ons pluk nou nog die rooistes
as ons die liefde wil besing.

No comments:

Post a comment