Sunday, 16 September 2012

Het jy gehoor?

Eendjie sê vir skilpad
En skilpad sê vir vis
En vis swem gou na dolfyntjie
Voordat hy hom mis

Dolfyn sê vir seester
Wat vir seekat gaan vertel
En seekat roep vir seeperdjie
Wat gou sy kos bestel

Seeperdjie fluister vir orka
En orka vertel die rob
Rob vertel vir paling
Wat ‘n kabaal opskop.

En so hoor al die anemone
En vertel dit vir sponskrap
En sponskrap giggel aanmekaar
Hy dink dit is ‘n grap!

Sponskrap sê vir krewel
En krewel vertel vir kreef
En kreef mik na perlemoen
Maar krewe stap so skeef!

Perlemoen vertel vir mossel
En mossel vir arlikrik
Arlikrik roep toe na pikkewyn
Maar pikkewyntjie skrik

Toe vra hy maar vir seepampoen
“Het jy dit al gehoor?”
“Ja” se seepampoen “al lankal
By die jellievisse koor.”

Die jellievis het my vertel
En ook vir albatros,
Maar albatros het gedink
Ons moet dit liewer los.

Toe vertel ek maar vir seeslang
En hy weer vir garnaal
Maar garnaal was te besig
Met sy middagmaal.

Toe sit ek maar net rustig
En wag om self te kyk
Hoe witdoodhaai nou eintlik
In sy ballettutu sal lyk.

No comments:

Post a comment