Wednesday, 11 April 2012

Drie ou koeie


Drie ou koeie het ‘n entjie gaan loop
Eers oor die bruggie en toe verby die diep sloot
Met hulle hoede, rooihempies en sonbrille op
Praat hulle te lekker en gegiggel verspot

oor hulle kalfies se kolle en hulle bulle se moo
Oor die reen wat nou min word in die Karoo
Oor die hooi en die hawer en die gras van die veld
Maar oor die nuwe skaaphond is hulle erg ontsteld.

Want hy jaag hulle sterte en maak hulle gek
Hy moet skape oppas maar hy spring oor die hek
En probeer sowaar om hulle kalfies te vang
En dan raak die arme bloedjies so bang.

Wat dink jy kan hulle doen, hoe gaan hulle maak
Om van die swart en wit laspos ontslae te raak?
Die plan is eenvoudig, die plan is dit:
Die swaarste van die drie gaan net op hom sit.

‘n Plat skaaphond het nog nooit iemand gepla
Want ‘n plat skaaphond sal hom moet gedra
Anders sal die wind hom sommer wegwaai
Veral as ‘n paar koeie hulle sterte hard swaai.

No comments:

Post a comment