Saturday, July 30, 2011

Saterdag in Ionia Straat

Twee mense vol warmte,
vol vreugde en lig
Het onverwags my
dag gerig
Op herontdekking
van dit wat ek weet
en my laat voel
ek is kompleet
en ek’s genoeg
net soos ek is
om iemand anders
weer te rig.

Saturday, July 23, 2011

My man

Sou ek , sou jy
As ons weer moes
Mekaar weer vind
In die mengelmoes
Van skewe gisters
Se stokou sere
Fyngemaal
Deur vorige lewe?

Ek dink ek sou
met baie meer krag
deur alles worstel
as ek kon weet jy wag
om  saam te bring
na hierdie tyd
van saligheid.

Ek is so lief vir jou.

Saturday, July 16, 2011

Afrikaner

Op die blik van jou hart
Speel ‘n deuntjie van wraak
Wat weerkaats op die glas
Wat ‘n spieelbeeld moet maak
Wat jy na kan kyk
En kan sien wat jy wil
Sodat jy kan glo
Die eggo’s is stil.

Maar ek hoor ‘n gerommel
Van vergete misdade
Wat lank nog gaan praat
Oor gebrek aan genade
Vir die wat nou stil is
Maar wie se pyn skree
Om wraak of vergifnis
Of dalk vir altwee.

Saturday, July 9, 2011

Melissa se sprokie

Melissa se sprokie

Ek hoor jou kom, sê die klein prinses,
Ek hoor jou lag in die wind.
Ek weet dat jy daar is, ek weet van jou,
Al dink pappa:  ag, wat weet ‘n kind.
                                               
Ek sien spoortjies van jou in mamma se hart
Ek sien kleertjies vir jou in die laai.
Ek hoor ouma se stem vol lag en vol sag
As sy vra of ek dan al raai.

Jy’s die prinses van die geel waterblom
En ek die prinses van die maan
Ons kasteel is die liefde van pappa se hart
En ons kasteel sal vir altyd bly staan.




Saturday, July 2, 2011

Woorde

Woorde is wanhoop
woorde is pyn
altyd dieselfde
vernietigende refrein.

Wat wat nog moet toesmeer?
wat wat moet laat blink?
wat swart is sal swart bly
wat stink, sal stink.

Hoeveel woorde maak 'n hamer
sterk genoeg om my te breek?
en sal dit dan genoeg wees
om jou swakheid weg te steek?

Hoe lank is lank genoeg
vir die haat om aan te hou?
en wat as jy dan uitvind
dit bloei nog steeds in jou?

My mure word net hoër
my vlerke sprei al wyd
ek groei deur genade
oor die woede en nyd.