Monday, 12 December 2011

Pappa

Pappa
Wat is daar nog wat ek van jou kan sê? My bonsai boompie wat die skaduwees van ‘n geelhoud gegooi het.  Miskien dat die kosbaarse les wat jy my geleer het in nederigheid lê? Miskien om nie om te gee wat ander van jou dink nie? Miskien dat jy goed genoeg is al sien ander mense dit nie altyd raak nie? Daar was soveel lesse wat jy my sonder woorde geleer het.
Onthou mens in die hemel? Kan jy onthou van daai dag toe ek so vier jaar oud was en dit vir dae en dae gereën het.  Ons was so opgeskeep met onsself in die huis en ek het geneul dat ek nie ‘n dag langer kon speel sonder seesand nie.  Of dit frustrasie of liefde of altwee was sal ek seker nooit weet nie, maar jy het jou oilskin broek aangetrek, die kruiwa gaan uithaal en vir my ‘n vrag nat seesand onder die kombuistafel op mamma se blink linoleum vloer kom aflaai.  Terwyl mamma met jou geraas het oor haar kombuisvloer het jy by die tafel gaan sit, jou skoene uitgeskop en jou kaal tone in my nat sand ingekrul sodat ek kasteeltjies oor jou voete kon bou. Daai dag was jy my superhero.
Baie keer was ek so skaam dat ek jou kind was. Ek het my geskaam vir die arm vissermans bestaan en later vir die feit dat jy begrafnispolisse verkoop het.  Ek was so skaam oor die ou rooi hoedjie wat jy altyd op jou bles kop gehad het en vir jou toonlose gesing waarmee jy deur ons klein drieslaapkamer huisie geloop het as my vriende daar was.  Ek het my geskaam vir die feit dat jy nie veel gelees het nie en dat jou algemene kennis so klein was. Dalk kan ek nou maar erken dat ek gedroom het oor ‘n pa wat vir my horisonne kon oopbreek. Ek is so jammer pappa, ek was toe ook maar net ‘n kind.  Gelukkig het ek darem toe grootgeword en weer my superhero in jou raakgesien.
Ek onthou die naweek van jou dood in swart en wit fotos. Fotos wat ek nooit geneem het nie en nou so spyt is daaroor. Die are op jou vasgebinde hande sodat jy nie jou maagbuis moes uittrek nie. Click... Die prominensie van jou wangbene op jou te maer gesig. Click.... Die lyn van jou lippe wat nie meer geglimlag het nie. Click....  Die vorm van jou lyfie onder die komberse teken my hartseer in assemetriese lyne wat my hart toeknoop.  Click....  Die leegheid in jou oë waarin Alzheimer’s die ligte al afgeskakel het.  Click...  Die sagte lyne van jou koue voete wat nie wou warm word nie al het ek sokkies daaroor getrek.  Click.... Ek dink ek onthou dit as prentjies omdat dit nie meer jy was nie. Jy was ‘n kompas wat ons rigting aangedui het sonder dat ons dit ooit agtergekom het. Jy was ‘n volkleur mens, duidelik maar sag soos ‘n stillewe portret van die sappigste vrugte. 
Ek loop ook deur die huis en sing toonloos net soos jy.  Ek vat ook aan my kinders met sagte hande en soen hulle koppe.  Ek probeer hard om so ‘n goeie mens soos jy te wees maar ek kry dit nie altyd reg nie.  Ek wens ek het ‘n onthou gehad van jy wat vir my sê jy is lief vir my of van ‘n drukkie van jou af, maar jy was nie so groot gemaak nie.  Jou liefde was in braille beskryf. 
As ek die statistieke van jou lewe moes uitspel sou ek kon sê jy was die man van een vrou, die pa van twee kinders, ‘n visserman,  ‘n seun, ‘n broer vir vier susters, ‘n oupa van sewe kleinkinders, ‘n huiseienaar, ‘n tuinier, ‘n vriend en ‘n harde werker.  My gamtosie pa wat my kleintyd op sy vismandjie geswaai het.   Die pa wat my op die deuntjie wat sy gebede leer bid het.  Wat my laat skool bank het maar my nooit uit die Sondagskool laat bly het nie.  ‘n Pa wat God sigbaar gemaak het vir ons. Nie ‘n volmaakte pa nie,  maar ‘n mens, ‘n man, ‘n sagte hawe.  Ek wil vir jou ‘n momument van liefde bou.

Ek mis jou.

2 comments:

  1. Ek dink dis jou eerlikheid wat jou so suksesvol maak.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie dat jy kom lees het en vir jou mooi woorde. Ek waardeer dit regtig.

      Delete