Monday, August 8, 2011

Depressie

Het jy al in die donker geloop?

Het jy al?

Weet jy van watter donker ek praat?

Die donker wanneer jy alleen in die nag nie weet of jy more die daglig sal aanskou  nie, want jy weet nie of jy die krag het om tot more aan te hou nie.

As swart gedagtes ongenooid in jou kop kom neskop en met jou praat oor hoe en wanneer eerder as oor moet of nie moet nie?  En jy jou kop fisies skud want jy glo (soos ‘n kind wat sy oe toemaak as ‘n  kar aankom) dat jy so van die gedagtes ontslae kan raak. Dink jy ook  jy is totaal ongebalanseerd as dit met jou gebeur? Wonder jy ook of  ander mense sal dink jy is mal as hulle uitvind van jou donker? 

Elke cliché in die boek vertel sy eie storie -  positiewe denke - gesonde liggaam, gesonde gees - die beste manier om goed te voel, is om goed te doen - raak besig, ledigheid is die duiwel se oorkussing - ‘n verveelde brein is ‘n depressiewe brein - prys net die Here, depressie en lofprysing kan nie saam oor leef nie - die clichés lui in stereo in jou kop maar hulle is so leeg as wat die donker swart is.   Hulle bring geen lig nie.

Moet dit net nie waag om vir iemand van jou donker te vertel nie.  Hel nee, dan is jy op al wat ‘n gebedslys is en die onderwerp van bespreking op elke susterstee.  Swart is nie ‘n gemeentekleur nie.  Swart is die kleur van die sosiale swakkeling. Die ag-foeitog-die-arme-familie kleur. Die kleur van vlamrooi skaamte. Swart is die handelsmerk van die swakkeling en die bose.  Swart is die kleur van verwerping en die ironie is dat jy jouself lankal verwerp het. 

En tog wen jy, want jy wen elke keer as die donker ongenooid inkom en jy tog oorleef.  Jy wen met elke voet wat jy voor die ander een sit. Jy wen met elke gevoel wat jy voel, want jy weet jy het nog nie totaal gedissosieer nie.  Die donker het nie gewen nie.

Nog nie.

Nie vannag nie.

Ken jy my donker?

No comments:

Post a Comment